5 Wenke om teleurstelling te hanteer


girl in orange shirt while holding pink kinetic sand

Teleurstelling is nie lekker nie. Dit voel nie goed wanneer jy uitgesien het na iets, of hard gewerk het vir iets, en dit werk nie uit soos wat jy wil hê dit moet nie. Of jy nou sleg gedoen het in ‘n toets, of nie die span gehaal het nie, teleurstelling is nooit lekker nie.

Teleurstelling kan jou soms laat voel dat jy nie goed genoeg is nie en dat jy nooit jou drome sal bereik nie. Moenie laat teleurstelling jou lewe sleg maak nie. Hier is ‘n paar wenke om teleurstelling beter te hanteer.

1. Moenie jou gevoel onderdruk nie

Teleurstelling kan mens baie skaam laat voel en jy wil dalk vir mense wegsteek hoe jy rerig voel. Jy wil maak asof dit jou nie pla nie en jy steek jou gevoelens weg agter ‘n glimlag of grappie. Wanneer jy teleurstelling ervaar, erken jou emosies en gee vir jouself toestemming om deur jou gevoelens te werk.

Gaan slaan die bokssak, of gaan huil op ‘n plekkie waar jy veilig voel. Praat met iemand oor dit wat jy voel, of skryf jou gevoelens neer. Dit is normaal om nie lekker te voel nadat jy teleurgestel is nie.

2. Onthou, jy is nie ‘n mislukking nie

Wanneer ‘n mens teleurgesteld voel, kan jy baie keer begin dink dat jy ‘n mislukking is, of nie goed genoeg is nie. Maar onthou, almal maak foute een of ander tyd in hulle lewe. Een of twee of selfs drie foute maak nie van jou ‘n mislukking nie. Sodra jy begin dink dat jy nie goed genoeg is nie, sê vir jouself “STOP!”, en dink aan iets positiefs. Hoe meer jy dink aan hoe sleg jy is en hoe groot mislukking jy is, hoe meer gaan jy begin sleg doen en agteruitgaan.

3. Leer uit jou foute

Onthou, almal maak foute en almal het al teleurstelling ervaar. Die belangrikste is om te leer uit jou foute en jou fokus op die positiewe te sit. Veronderstel jy het ‘n slegte rapport gekry. Jy voel baie teleurgesteld want jy het hard geleer en gehoop jy sal beter punte kry. In plaas daarvan om in sak en as te gaan sit, dink aan maniere hoe jy jou punte kan verbeter. Dalk leer jy nie op die regte manier nie? Dalk moet jy uitvind wat jou leerstyl is. Elke probleem het ‘n oplossing. Leer uit jou foute en probeer beter doen volgende keer. Hou aan totdat jy jou doelwit bereik het.

4. Fokus op dit wat jy het

Dit is maklik om te fokus op jou foute en al jou aandag aan die teleurstelling te gee. Maar dit gaan jou net nog slegter laat voel. Fokus op dit wat positief is. Jy het dalk nie die span gehaal nie, maar jy is fisies gesond genoeg om harder te oefen en jou vaardighede te verbeter. Jy het dalk ‘n slegte rapport gekry, maar jy kan steeds hard werk, want jy het voorheen ‘n goeie rapport gehad, en jy kan dit weer doen.

Dink aan mense en dinge om jou waarvoor jy dankbaar is. Klein dingetjies is kosbaar. Jy het ‘n dak oor jou kop en klere en kos. Jy het nuwe geleenthede wat gaan kom en jy gaan weer die kans kry om beter te doen.

5. Moenie te hoë verwagtinge aan jouself stel nie

Soms wil ‘n mens die beste in alles wees. Jy wil eerste kom in elke sport en die beste punte in die graad vir al jou vakke kry. Jy wil die gewildste in die skool wees, die vinnigste kan hardloop en die mooiste kan sing. Ons kan soms baie onrealistiese verwagtinge hê en doelwitte stel wat te moeilik is om te bereik. Kies eerder een of twee dinge waarin jy wil uitblink, en fokus daarop. Moenie te hoë verwagtinge stel nie. Elke mens is goed met iets, maar niemand is goed met alles nie. Fokus op jou sterkpunte, en as jy foute maak, staan op en werk harder.

Sukkel jy om teleurstelling te verwerk?

As jy voel soos ‘n mislukking en moedeloos is oor ‘n swak rapport, of enige iets in jou lewe, is dit belangrik om hulp te kry. Kontak ons sodat ons jou kan help om die mislukking te vewerk en beter en meer gemotiveerd voel.