Hoe om negatiewe gedagtes om te skakel na positiewe gedagtes


negatiewe gedagtes vs positiewe gedagtes

Negatiewe gedagtes kan jou hele lewe beheer en jou selfvertroue totaal en al laat verdwyn. Dit wat ons dink is ongelooflik kragtig. Negatiewe gedagtes begin gewoonlik met iets kleins. Kom ons vat wiskunde as ‘n voorbeeld. Jy kry gewoonlik 80% vir wiskunde, maar in die laaste toets wat jy geskryf het, het jy swakker as gewoonlik gedoen. Jy voel baie sleg oor die uitslag en dit voel vir jou of jy ‘n totale mislukking is.

Hoe meer jy dink aan die toetsuitslag, hoe meer voel jy soos ‘n mislukking. Jy begin dink dat jy dalk nie so goed is in wiskunde soos wat jy gedink het nie. Dalk is jy te dom om wiskunde te doen….. Naderhand raak dit al waaraan jy kan dink: “Ek is te dom om wiskunde te doen”.

Teen die tyd dat die volgende wiskunde toets geskryf moet word, het jy al so baie negatiewe dinge gedink, dat jy glad nie meer glo dat jy wiskunde kan doen nie. Jy probeer hard leer, maar jy kan nie die somme regkry nie. Jy kan glad nie slaap nie en voor jy begin skryf is jy so op jou senuwees dat jy natgesweet is. Jy begin die vraestel deurlees en begin al hoe meer te stres. Somme wat jy voorheen maklik kon doen, kan jy nou skielik nie meer doen nie. Jy vergeet alles wat jy geleer het en doen weer sleg in die toets. Weereens begin jou gedagtes vir jou sê dat jy dom is en dat jy nie wiskunde kan doen nie. En so herhaal die proses homself.

Jou IK het nie minder geword nie, jy is nie dommer nie, maar skielik kan jy nie meer wiskunde doen nie. Hoe werk dit?

Jou gedagtes het soveel krag dat dit jou hele lewe kan beinvloed. Meestal laat ons toe dat negatiewe gedagtes groei en ons laat sleg voel. Maar ons vergeet van positiewe gedagtes. Kom ons sê ons het twee plante. Die een plant is negatiewe gedagtes, en die ander plant is positiewe gedagtes. Kom ons gee net vir die negatiewe gedagtes plantjie water, maar ons los die positiewe gedagtes plantjie droog. Na ‘n maand gaan die negatiewe gedagtes plantjie groot en groen wees, maar die positiewe gedagtes plantjie gaan klein en droog wees.

Ons gedagtes is soos die plantjies. Vir watter plantjie gee jy die meeste water? Met ander woorde, waaraan dink jy die meeste? Aan watter gedagtes gee jy die meeste aandag?

Kom ons vat weer die voorbeeld van die wiskunde toets. Jy kry gewoonlik 80%, maar in die laaste toets kry jy baie swakker punte. In plaas daarvan om te dink dat jy dom is en nie wiskunde kan doen nie, begin jy positief dink. Jy sê vir jouself dat dit nie die einde van die wêreld is nie. Dat enige iemand soms sleg doen in ‘n toets, maar dit beteken nie dat jy dom is nie. Jy begin harder werk en jy probeer uitvind waar jy foute gemaak het. Jy werk aan jou foute en jy oefen hard aan jou somme. Jy weet dat jy volgende keer beter gaan doen, want jy is slim en jy het voorheen goed gedoen. Een toets gaan nie jou hele lewe verander nie.

Die volgende toets gaan kom, en jy gaan positief voel. Jy weet jy het hard gewerk en dat jy uit jou foute gaan leer.

Fokus daarop om vir die positiewe plantjie meer water te gee as vir die negatiewe plantjie. As jy ‘n negatiewe gedagte het, sê hardop vir jouself “STOP!” en dink aan iets positief. Glo in jouself en werk hard. Jou gedagtes is sterk, maar jy kan dit beheer.

Sukkel jy om positief te dink? Kontak ons vir ‘n afspraak.